Tuesday, November 11, 2008

Die oorhandiging van Arieskraal BEE Projek




Cobus Dowry, Minister van Landbou in die Wes-Kaap,
by die oorhandiging van Arieskraal Projek
31 Oktober 2008

Programme director, first Secretary at the Embassy of Belgium, Rozane de Bilderling, Chris Punt, Mayor Theewaterskloof Municipality, CEO of Vintage Distributors (Belgium), Frans van den Boschhe, Managing Director Beltran NV Werkhuizenkaai (Belgium), Eric Dieric, Acting Chief Director Department of Land Affairs, Johnny Slingers, Chief Director Farmer Support and Development Elsenburg, Dudley Adolph, Director FET Elsenburg, Douglas Chitepo, Representatives of other Departments and Institutions, Ladies and Gentlemen,
Baie dankie vir die uitnodiging om vandag saam met u te mag wees om hierdie projek amptelik te oorhandig aan die 197 begunstigdes en ook sertifikate te oorhandig aan die van u wat opleiding ontvang het deur middel van die opleidingsprogramme wat ons as Wes-Kaapse Departement van Landbou aan mense soos u beskikbaar stel.
Hierdie projek van u is die grootste van sy soort in hierdie omgewing en gee aan u as plaas en pakstoorwerkers ‘n beherende aandeel van 52% in die vrugteplaas. Dit dien ook as ‘n voorbeeld van die suksesse wat ons kan behaal wanneer kommersiële boere soos me Barbara van den Bossche en mnr Charl van den Berg, bereid is om uitvoering te gee aan die grondhervormingsprogram van die regering.
Die Departement van Landbou onder die ANC regering in die Wes-Kaap spandeer op die oomblik 80% van sy jaarlikse begroting aan die bemagtiging van ons voorheen benadeelde gemeenskappe om te sorg dat ons, ons nuwe boere op die beste moontlike maniere gevestig kan kry en dat die plaaswekergemeenskap ook voordeel sal put uit die bevryding wat die nuwe demokrasie moes bring.
U weet dat ons in Landbou ‘n baie groot waardering het vir die belangrike rol wat plaaswerkers speel om landbou in die provinsie aan die gang te hou en daarom doen ons op die oomblik alles in ons vermoë om die omstandighede en kwaliteit van lewe van ons plaaswerkers te verbeter, sodat u nie soos tweedeklas burgers in hierdie land moet lewe nie. Dit het tyd geword dat die nuwe Suid-Afrika ook voor u deur moet kom stilhou en by u voordeur moet inkom.
Landbou in die Wes-Kaap speel ‘n baie belangrike rol in die ekonomie van die Provinsie en die land en u as plaaswerkers het reeds oor baie jare ‘n groot rol gespeel om die Wes-Kaap die sterkste landbouprovinsie te maak.
As regering word ons aangedryf deur die wete dat daar nog so baie van ons mense is wat jare op plase bly en werk of wat oor 'n lappie grond beskik maar nie altyd die finansiële vermoë het om werklik winsgewend te boer nie. Ons wil hê dat u as plaaswerkers ook voordeel moet trek uit die regering se doelwit om 30% van landbougrond aan mense soos u, oor te dra.
Dit is waarskynlik ook grootliks die rede waarom my tyd as Minister van Landbou een van die verrykendste ervarings van my lewe is, ook omdat Landbou my so na aan die hart lê, maar ook omdat landbou soveel fasette het wat 'n rol speel in die ontwikkeling en voortbestaan van ons mense, asook in die ekonomiese groei van die Wes-Kaap.
Die Wes-Kaapse Regering wil hê dat daar verandering in ons samelewing moet kom waar ons nie nodig het om op die staat te wag om ons maatskaplike welsyn te verbeter en ons lewensomstandighede te verbeter nie. Dit moet gebeur deur u ekonomies selfstandig te maak deur middel van projekte soos hierdie, waarvan u deel is. Dit help ook met die groei van die ekonomie en dit bring ook ‘n toename in werksgeleenthede. Die belangrikste is egter die uitbreiding vaneienaarskap. As ons hierin kan slaag, sal ons armoede behoorlik kan bestry en die ongelykhede van die verlede uitwis en aan u 'n beter lewe kan voorsien.
Die skepping van inkomste- en werkgeleenthede is vir ons as regering ‘n baie hoë prioriteit en daarom is dit nodig dat daar altyd nuwe projekte aangepak sal word waar al die mense in die omgewing baat by sal vind. Dit is ook baie belangrik dat bestaande projekte suksesvol moet wees om volhoubaarheid in landbou te verseker.
Ek glo baie sterk daaraan aan om te kan boer nie'n reg is nie, dis 'n voorreg. Die besit van grond is wel 'n reg wat deur die Grondwet van die land aan u gegee word, maar wanneer ons hierdie twee nl. boerdery en grondbesit bymekaar bring, word dit 'n onderneming wat met groot verantwoordelikheid aangepak moet word en daarom is dit vir ons in die Wes-Kaapse Departement van Landbou baie belangrik dat ons ook aan u die nodige ondersteuning moet bied om toe te sien dat u 'n sukses maak van u boerdery.
As ons wil slaag in ons doelwit om ware transformasie binne die landbousektor te weeg te bring, dan sal ons meer van hierdie tipe ontwikkelings moet hê, waarin daar op eie inisiatief voortgegaan word om hande te vat.
As Departement is ons daartoe verbind om u op alle terreine binne ons mandaat by te staan en ek wil dan ook in hierdie verband ons dienste en kennis aanbied en u uitnooi om daarvan gebruik te maak.
Dit is egter so dat u dink dat u nou kan agteroor sit en dink u hoef nou nie meer hard te werk of u verder te bekwaam as individue nie. U moet uself verder laat oplei deur die programme wat die Departement van Landbou beskikbaar stel
Ons glo baie sterk aan opleiding om jou lewensomstandighede te verbeter en daarom het ons vanjaar weer R308 miljoen uit ons begroting beskikbaar gestel vir Gestruktureerde Landbou-opleiding. Ek weet dat u mede-eienaars ook baie waarde heg aan opleiding en daarom moet u sorg dat u deel word van die opleidingsprogramme van die onderneming.
Ek wil afsluit deur u geluk te wens met die groei van die projek en die toewyding waarmee u werk om daarvan ‘n sukses te maak. Ek wil aan die mense in die nuwe projek sterkte toewens en die vertroue uitspreek dat u as ‘n span sal saamwerk om seker te maak dat hierdie projek ook suksesvol sal wees en as ‘n voorbeeld sal dien vir ander plase in die omgewing.
Ek wil u weereens bedank vir die geleentheid en die hoop uitspreek dat u goeie tye sal belewe as bewerkers van die grond en dat u saam met ons die stryd sal stry om die draak van armoede die hoof te bied met die wonderlike geleenthede wat die goeie Regering vir ons bied om te sorg dat die Wes-Kaap 'n tuiste vir almal sal wees.

Navrae/Enquiries:Alie van JaarsveldCell: 084 604 6701
Issued by: Department of Agriculture, Western Cape Provincial Government 31 Oktober 2008

No comments: